Toyota Landcruisers kan ook Breek!

In Articles, Gallery, Sports & Hobbies, Vehicles by Andre Van VuurenLeave a Comment

Tydens ‘n safari in Junie / Julie 2013 saam met Andre Van Vuuren van Explore Africa Adventures na Zimbabwe, het ek Anton en my vrou Elize die volgende probleem ondervind. Toe ons na 10 dae in die toer op pad uit Mana Pools langs die Zambesi Valley uitgery het, het ons 2010 4.2 diesel Landcruiser Pick Up se rat het bly uitspring uit 4de rat posisie. Ek het maar tussen 3de en 5de rat bly ry. Omtrent 220km van Harare het die ratkas totaal die gees gegee.

Gelukkig was ons heeltyd in radio verbinding met mekaar, wat n standard prosedure is met Explore Africa Adventures. Die radios word deur hulle voorsien en daar word altyd in konvooi gery met die posisie van elke voertuig bekend aan die toerleier, Andre. Ons was op daardie stadium die tweede voertuig van agter. Ek het Andre per radio laat weet en die konvooi is onmiddelik gehalt. Hy het ons dadelik te hulp gesnel en na ondersoek ingestel deur van die ander manne in die groep, is daar besluit om die voertuig te tou na Harare wat op daardie stadium plus minus 220km weg was. Des O’ Neil, wat al n hele paar safaris saam met Andre meegemaak het, is deur Andre gevra om die konvooi te lei na Harare.

Andre wat nou al vir die tweede seisoen sy toere met n Nissan Navara 2.5 dubbelkajuit doen, het die groot Landcruiser wat in die omgewing van 3.2 ton weeg, op sleep geneem. Ons is sonder moeite die volgende 220km Harare toe gesleep. Dit was nogal iets om te beleef toe die Nissan met die Cruiser agterna by ander 4×4 bestuurders op die pad verby gegaan het. Op een stadium is Andre verby ‘n ander Cruiser met ons agterna, want die Cruiser het te stadig na sy sin gery.Om die swaar gewig te sleep moet n mens maar die momentum probeer hou.

Bo en behalwe twee boetes ( blykbaar mag jy nie ‘n voertuig in Zimbabwe op sleep neem sonder om gebruik te maak van ‘n sleepstang nie), het ons na sowat 3 ure in Harare aangekom, selfs nog voor die res van die konvooi wat eers gestop het vir middagete.

Tydens ons rit het Elize vir Peter Norenius van Genesis Versekerings Makelaars geskakel en alles aan hom verduidelik. Hy het aanbeveel dat ons die voertuig repatrieer na SA omdat dit vir hom geklink het of die skade te groot is om plaaslik te herstel. Slegs n paar minute na ons oproep aan Peter het ons ‘n oproep van die versekeraar Cross Country gekry, en is die eis telefonies aangemeld. Hulle het ons net daarna per sms laat weet die eis is geregistreer en hulle gaan dadelik iemand stuur met n trok vanaf RSA.

Ons het gelukkig so ‘n jaar gelede al die polis uitgeneem op aanbeveling van Andre tydens ons toer in 2012 na die Serengeti in Tanzanie (Blouwildebees Migrasie) wat ons ook met Explore African Adventures gedoen het.

Ons het die Woensdagaand by ‘n gastehuis oornag in Harare en die Donderdag is ons voertuig opgetel en is dit Vrydag veilig afgelaai by Halfway Toyota in Honeydew. Andre het vir my en Elize die geleentheid aangebied om saam met hom in sy Navara die res van die safari te voltooi en saam met hom huis toe te ry.

Wat ‘n wonderlike einde van ‘n heerlike vakansie wat andersins rampspoedig kon geeindig het as dit nie vir al die uiters bekwame mense was wat ons gehelp het nie.

Dankie aan almal!

ANTON EN ELIZE SMITH, HONEYDEW

About the Author

Andre Van Vuuren

Website

Explore Africa Adventures is a privately owned safari enterprise, specializing in Guided Self Drive Safaris to Mozambique, Malawi, Zambia, Tanzania and Botswana. We also offer safaris to destinations in South Africa, that people know little about, and do not want to go there on their own.

Leave a Comment